Ons Gemeente Geskiedenis Missie Leer & Aktueel Die Opstanding Doop Huwelike Gemeente Indeling Mannelofprysingsaand

Die Opstanding bewys dat Jesus die Messias is!

(Dr Johan Crafford)


Tertullianus van Karthago in Noord-Afrika, ’n belangrike Teoloog aan die einde van die tweede eeu en begin derde eeu na Christus, het gesê die geloof van die Christen is die opstanding van die dode;  in soverre ons aan die opstanding van Jesus Christus glo, is ons Christene.

Waarom is die opstanding van Jesus so belangrik?  Waarom neem dit so ’n sentrale plek in ons Christelike geloof in?  Waarom is dit so belangrik dat Jesus liggaamlik, fisies, opgestaan het?  Waarom kan ons dit nie bloot net as simbolies/metafories verstaan nie?


Om dit te verstaan moet ons eers na die uitdrukking “die Seun van die mens” kyk.  In die evangelies kom dit 81 maal voor! [Matt. (30); Mark. (14); Luk. (25); Joh. (12)].  Met “die Seun van die mens” verwys Jesus na Homself as die Messiaanse figuur in Dan. 7:13,14 (in die 1953 vertaling “Een...soos die Seun van ’n mens”;  in die 1983 vertaling “iemand soos ’n menslike wese”).  In Jesus se tyd het die Jode hierdie profesie baie goed geken en het geweet dat Hy met hierdie uitdrukking na Homself as die Messias verwys.  So het Hy hierdie teks aangehaal toe die hoëpriester vir Hom gevra het: “Is jy die Christus (= Messias), die Seun van Hom aan wie die lof toekom?”  Jesus het geantwoord:  “Ek is, en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.”  Toe is Hy aan godslastering skuldig bevind en ter dood veroordeel (Mark. 14:61-64;  Matt. 26:63-66).  Vir die Jode het Hy gesê:  “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is” (Joh. 8:28 - Vgl. Eks 3:14!).  Die Seun van die mens het volmag om sondes te vergewe en siekes te genees (Matt. 9:6,7);  Hy het gekom om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Matt. 20:28);  Hy het gekom om te soek en te red wat verlore is (Luk. 19:10);  Hy gee die ewige lewe (Joh. 3:13-16)!!


Teen hierdie agtergrond kan ons nou kyk na Jesus se vraag aan sy dissipels:  “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”  Party sê dit is Johannes die Doper, of Elia, of Jeremia, of een van die profete.  Dan vra Hy:  “Maar julle, wie sê julle, is Ek?”  Dan antwoord Petrus:  “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”  Petrus het geweet:  die Christus en die Seun van die mens is dieselfde Persoon – en dit is Jesus!!  Jesus sê die Vader het dit self aan hom geopenbaar en op hierdie rotsbelydenis bou Jesus sy kerk en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie! (Matt. 16:13-18).  Dit beteken:  solank as die kerk bely dat Jesus die Seun van die mens, die Messias is, sal die kerk staande bly teen die magte van die doderyk.  Waar hierdie rots ontken en verkrummel word, verloor die kerk sy bestaansreg!


Hierna het Jesus by drie geleenthede met sy dissipels gesels oor sy naderende dood en opstanding.  Dit word gewoonlik die drie lydensaankondigings genoem.  Eintlik was dit drie opstandingsaankondigings!  So belangrik is die boodskap dat aldrie sinoptiese evangelies dit berig:  (1)  Matt. 16:21; 17:9,12  Mark. 8:31  Luk. 9:22  (2)  Matt. 17:22,23  Mark. 9:31  Luk. 9:44  (3)  Matt. 20:18,19  Mark. 10:33,34  Luk. 18:31,32.                


Jesus het gesê dat “die Seun van die mens” doodgemaak sal word en op die derde dag uit die dood opgewek sal word (net in Luk. 9:44 word nie na die opstanding verwys nie).    Dit beteken dat Jesus die bewys van sy Messianiteit gekoppel het aan die feit dat Hy op die derde dag sou opstaan.  Dit sou die bewys wees dat Hy “die Seun van die mens” is!  Die opstanding sou die integriteit van sy lewe en boodskap bepaal.  Sy totale boodskap sou staan of val met sy liggaamlike opstanding nadat Hy doodgemaak is.  Hy plaas sy eie integriteit op die spel en maak alles onderworpe aan sy opstanding. Sy geloofwaardigheid was afhanklik van sy opstanding.


Sy opstanding moes dus sy Messianiteit bevestig en proklameer!  Ons lees hierdie proklamasie in Petrus se Pinkstertoespraak:  “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan ... Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” (Hand. 2:32,36).  Paulus skryf ook “op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here” (Rom. 1:4) en “hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewendig geword:  om Here te wees oor die dooies en die lewendes” (Rom. 14:9).   Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels, open hulle verstand om die Skrif te verstaan en sê:  “So staan daar geskrywe: Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word” (Luk. 24:45-47). 


Hy is “Here” en “Christus/Messias”.  Sy opstanding was die proklamasie deur God ... “want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het.  As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan” (Hand. 17:31).  Wie is hierdie “Man” anders as die Koning van Dan. 7:14, “die Seun van die mens”?  God het bewys gelewer:  Jesus is die Messias!!


 Dan. 7:14 is ’n aangrypende profesie:  “En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap;  en al die volke en nasies en tale het Hom vereer;  sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (1953 vertaling).  Op. 7:9,10 is eweneens ’n aangrypende profesie:  “Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan.  Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande.  Hulle het hard uitgeroep:  Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”  Tussen hierdie twee visioene is daar ’n historiese gebeurtenis wat die twee met mekaar verbind:  Die opstanding van Jesus as die Christus en Here;  die opstanding van “die Seun van die mens”.


Indien Jesus dus nie liggaamlik, fisies, opgestaan het nie, was Hy nooit “die Seun van die mens” nie; was Hy nooit die Messias nie; was Hy nooit die Verlosser nie; was Hy net ’n gewone mens, Jesus van Nasaret, met ’n goeie, navolgenswaardige morele boodskap.  Indien Hy nie opgestaan het nie, is Hy nie God wat aanbid kan word, sondes kan vergewe, siekes kan genees, aan uitgeput en oorlaaides rus kan gee en aan sondaars die ewige lewe kan aanbied nie.  Die bewyslas hiervoor het Hy op Homself geneem:  sy opstanding!  Daarom neem sy opstanding so ’n sentrale plek in ons Christelike geloof in.


Daarom is ons prediking en geloof nie leeg nie (1 Kor. 15:14);  is ons geloof nie waardeloos nie en is ons nie meer gevange in ons sondes nie (1 Kor. 15:17);  is die wat in Christus gesterf het, gered (1 Kor. 15:18);  hoop ons nie net vir hierdie lewe op Christus nie en is ons die gelukkigste van alle mense (1 Kor. 15:19) en leef ons in die oorwinning van ons Here Jesus Christus (1 Kor. 15:57).  Dit is die krag van die opstanding (dieselfde geestelike krag waarmee Jesus opgestaan het) wat in ons werk (Ef. 1:19,20) wat aan ons die wedergeboorte gee sodat ons in ’n lewende hoop kan leef! (1 Pet. 1:3 vgl. 1953 vertaling).


Die opstanding van Jesus is die een enkele historiese gebeurtenis wat sy boodskap as die Christus en Here legitimeer en inhoud aan ons geloof gee!  Dit is die crux van ons Christelike geloof!  Indien die opstanding net metafories/simbolies verstaan moet word, is daar geen bewys dat Jesus die Messias is en dat die profesieë van die Ou Testament in Hom vervul is nie.  Geen wonder dat die priesterhoofde die storie versprei het dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het nie (Matt. 28:11-15).  As hulle erkenning gegee het aan sy opstanding, sou hulle móés erken dat Hy die Seun van die mens, die Messias is!!


Tertullianus was reg:  in soverre ons aan die opstanding van Jesus Christus glo, is ons Christene.  Hy is die Christus, die Gesalfde van God, en ons, sy volgelinge ...Christene!!  Net omdat Hy opgestaan het, kan ons onsself Christene noem!! ... en wie nie in die opstanding glo nie, kan Hom net Jesus noem en nie Jesus Christus nie ... en waar die opstanding ontken word, verkrummel die fondamente!  


Nou bly daar net een keuse oor:  óf ek aanvaar die getuienis van Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Petrus en Paulus, óf ek verwerp Jesus as Messias.  Dit is die keuse van die Pilatusvraag:  “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” (Matt. 27:22).

My keuse?  Ek glo die Bybel en erken Hom as Messias!!